Wat sê Laetitia?

Beskryf jou klerestyl, en vertel ons wat jy tydens die mooimaaksessie geleer het?
Gemaklike sportiewe klere. Ek dra nie gewoonlik stywe klere nie. Maar die noupassende aandrok wat ek vir die mooimaaksessie gedra het, het baie mooi gelyk!

Hoe het jy verwag gaan jy lyk?
Ek het gehoop om versorg en mooi te lyk.

En was jy verras toe jy jouself gesien het?
Ja, ek het jare jonger gelyk!

Wat het jou familie en vriende gesê?
Ek het ongelooflik baie komplimente gekry. Hulle sê ek lyk 20 jaar jonger.

Wat sê die mooimaakspan?

Leverne Botha – grimeerkunstenaar
Ek het ’n swart oogpotlood gebruik om Laetitia se pragtige groot oë met ’n sterk lyn op die boonste lid te beklemtoon. Sy het ook mooi hoë wangbene wat ek beklemtoon het.
Haar voorkoms het ek afgerond met ’n lipstiffie in haar natuurlike lipkleur.

Elaine, stilis
Ek het vir Laetitia ’n stylvolle chiffon-rok gekies, wat haar perfek gepas het. Die kleurryke rok is vroulik en vrolik en het haar mooi geaardheid beklemtoon.
Die swart aandrok was my gunsteling en het haar petite figuur beklemtoon, maar haar steeds gemaklik laat voel omdat die ryg-detail nie te styf sit nie.

Veronique Mills – fotograaf
Ek en Laetitia se dogter is al jare lank vriendinne en dit was vir my so lekker om haar ma ’n bietjie te kon bederf. Wat ’n lekker geskenk aan jou ma!
Laetitia is ’n baie mooi vrou en haar glimlag is aansteeklik. Sy het soveel liefde vir haar kinders en kleinkinders en dit straal deur die foto’s.

Klere van Slate, Willowbridge
Hare: Pro Hair Studio, Kenridge (021 914 2525)