Wat sê Betsie?

Beskryf jou klerestyl, en vertel ons wat jy tydens die mooimaaksessie geleer het?
Dit moet vroulik wees, maar ook gemaklik. Ek het geleer dat jy op enige ouderdom steeds kan mooi lyk én mooi voel.

Was jy verras om jouself in die spieël te sien?
Verskriklik! Ek het myself nie herken nie.

Wat was jou familie en vriende se reaksie?
Hulle was mal daaroor – veral om my so gelukkig te sien.

Wat het dié mooimaaksessie aan jou selfvertroue gedoen?
Verskriklik baie. Dit het my ook geestelik baie beter laat voel.

Wat sê die mooimaakspan?

Leverne Botha – grimeerkunstenaar
Ek het ’n onderlaag gebruik wat Betsie se vel ’n mooi egalige voorkoms gegee het. Haar wange het ek met ’n bronser beklemtoon om ’n gesonde glans aan haar voorkoms te gee.
Betsie se mooi oë het ek met ’n donkerbruin oogpotlood beklemtoon en haar sterk wenkbroue raam nou haar oë baie mooi.

Elaine, stilis
Vir Betsie se totale transformasie het ek net die beste klere gekies! Eerstens het sy baie gemaklik gevoel in die swart-en-rooi rok met goue bykomstighede. Die uitrusting het haar ligaamsbou baie goed gekomplementeer en haar besonders mooi laat lyk.
Die swart elegante rok wat ek vir haar gekies het, het ’n ander kant van Betsie na vore gebring – sy het gestraal van selfvertroue.
Betsie het tydens die modesessie ’n totale nuwe styl kleredrag, hare en grimering ontdek.

Veronique Mills – fotograaf
My gunsteling-deel van Betsie se mooimaaksessie was toe ek haar by die salon kry en haar nie herken het totdat sy vir my gewaai het nie. Haar hare het ongelooflik gelyk! Betsie is ’n plat-op-die-aarde-vrou en dit was só lekker om haar mooi te maak!

Klere van Slate, Willowbridge
Hare: Pro Hair Studio, Kenridge (021 914 2525)